top of page

DIE EIKELAAN

Die historiese eikelaan van Potchefstroom is kosbaar vir al die stad se inwoners, en is ook as 'n Erfenisgebied verklaar. Vir die meeste mense is die eikebome sinoniem met die stad; een van Potchefstroom se grootse bates en aantrekkinge.

Die hartseer nuus is dat baie van hierdie eikebome besig is om swaar te kry, te sterf of reeds dood is. 'n Onlangse opname het gewys dat amper 40% van die bome in gevaarsituasies is.

Onmiddellike optrede en ingryping deur alle Potchefstromers is nodig om die bome te red.

Hoekom moet ons die bome beskerm?

Die idee dat hierdie stewige reuse geen aandag of versorging van ons nodig het nie, is 'n mite. Nie slegs is daar natuurlike dreigemente soos droogtes en boomsiektes nie, maar verstedeliking en besoedeling het ook 'n negatiewe effek op die bome. Swaar verkeer, die verdigting van die grond en die aanhoudende bou van straatblokke en woonstelblokke het 'n drastiese invloed op die oorlewing van die bome.

Die Eikelaan is deel van die ryk herkoms van Potchefstroom en sy inwoners: die eerste bome is al in 1910 geplant. In 1977, met hul verklaring as nasionale monument, is daar gesê "Die eikebome gee aan die strate waarlangs hulle staan waardigheid en 'n estetiese karakter." Hoe sal die strate nie sonder die bome lyk nie!

Siende dat die eikebome 'n Graad II Erfenisgebied is, is dit boonop onwettig om hul enige skade aan te doen.

Die voordele van die bome en natuur is verreikend. Bome reguleer die kwaliteit van die lug en die plaaslike klimaat. Buiten dit, verwyder die bome ook kweekhuisgasse soos koolstof uit die atmosfeer en skei suurstof af.

​

Wat veroorsaak die agteruitgaan van die eike se gesondheid?

Teen 1980 was dit al duidelik dat die eikebome besig was om swaar te kry. Navorsing is gedoen; planne is gemaak, en daar is bevind dat onvoldoende grondwater die grootste oorsaak is. Die sluiting van Potchefstroom se watervoorsisteem in 1972 is 'n groot rede hiervoor. Verder het die toename in soliede oppervlakke soos geboue, strate en geplaveide areas (as gevolg van stedelike ontwikkeling) veroorsaak dat die meeste water in stormwatervore opeindig en nooit die bome se wortels bereik nie.

Die Stadsraad het baie pogings aangewend om seker te maak die bome kry genoeg water. 'n Besproeiingskema is in werking gestel langs die hele roete, maar vandalisme en onbeheerde plaveisel het dit beskadig. 

bottom of page