My gunsteling tyd van die dag is wanneer die son sak. Nie “’n sonsak” nie, dis heeltemal te cliché. Amper-skemer, voor dit vaal begin raak. Die mooiste gedeelte van hierdie tyd is die kleur van die lug. Die lig, eerder. Dis ’n kalmerende skakering tussen geel en oranje. En dit laat alles waaraan dit raak, mooier lyk.
Amper-skemer sonlig lyk die mooiste tussendeur die groen van die akkerblare. Die patrone van die lig raak deurmekaar met die patrone van die blare, en ’n mens kan net vir ewig staar na die stories wat hulle saam vertel.
Behalwe in die winter, natuurlik. Maar dis nie hulle skuld die natuur wil hê hulle moet elke jaar nuwe klere koop nie.
Krag, eer, stabiliteit, onsterflikheid. Dit is sommige van die eienskappe wat akkerbome simboliseer (dis waar, Google dit). ’n Mens kan dit sien: hulle is adellike bome, groot maar edel. Ek smag daarna om te weet wat hulle al alles gesien het terwyl hulle hier staan. Studentemanewales, romantiese pieknieks, troues, begrafnisstoete, busse wat moeë werkers huis toe naam, middagstappies saam met honde, selfs diewe in die nag...
Ek wonder of een van hulle al agtergekom het die bome kyk vir hulle.
Daar is baie dinge wat Stellenbosch-studente doen en sê waarmee ek nie noodwendig saamstem nie. Die meeste daarvan verdra ek. Partykeer is dit selfs waar: hulle mooi, ou geboue is beslis ’n aanwins vir ons erfenis.
Maar as hulle wil begin spog met hulle mees fantastiese, pragtigste, oudste-in-die-land akkerbome, stop ek hulle summier. Nou het jy té ver gegaan.
Om nou eenhonderd persent eerlik te wees, gee ek nie ’n duit om oor Stellenbosch, of enige ander dorp, se akkerbome nie, want hulle het niks om mee te spog nie. Potchefstroom, aan die ander kant, is die tuiste van die langste eikelaan in die Suidelike Halfrond. Om dit amptelik te maak, is die laan ook as ’n Erfenisgebied verklaar.
Dis reg, Stellies. Die hele Suidelike Halfrond.
Ek het iewers gehoor dat die mens gekondisioneer is om nie gereeld boontoe te kyk nie, so ons mis gewoonlik die wêreld waarin bome leef. Ons is eintlik maar korterige skepsels, as jy daaraan dink. Maar doen jouself die guns, volgende keer as jy iewers tussen die dam en die landboukollege staan: kyk op.
Stil en rustig. Dit is wat hulle is. En natuurlik ook mooi. En groen. Onsterflik, tog deesdae so sterflik.
En hulle het absoluut niks verkeerd gedoen nie.
Kyk, dis nou nie ’n vreemde “save the tree”-beweging of iets van die aard nie. Dis iets effens meer ernstig. Dis soos die Taalmonument in die Paarl wat besig is om te kraak. Of Tafelberg wat deur ’n meteoriet getref gaan word. Oukei, dalk nie so drasties nie, maar jy verstaan wat ek bedoel. Dis ’n monument, ’n simbool, ’n erfenis, wat die potensiaal het om tot niet te gaan.
Daar is soveel maniere wat ons hulle gelukkiger kan maak. Gee hulle water, moenie onder hulle stop met jou kar nie. Eenvoudige goed. Doen jouself ’n tweede guns, en gaan kyk op die Eikelaan se webtuiste vir maniere om te help.
En moet nooit weer onder die Eikelaning deurloop sonder om die amper-skemer en groen patrone te bewonder nie.
Rouxné van der Westhuizen is 'n Honneurstudent in Joernalistiek en Mediastudies aan die NWU. Sy het van kleins af 'n groot liefde vir lees en stories gehad. Haar belangstellings sluit diverse vorms van skryf en tale, fotografie, reis, die buitelewe, mense, kommunikasie, musiek en visuele kuns in. Sy besit ook haar eie blog, Kluisenaarsklaviere. Sy wil graag eendag 'n reisjoernalis word en is tans besig om Spaans te leer praat.
Comments