top of page

BLOG

Lees meer oor al die projekte en persone betrokke by #RedDieEike.

Search
  • Writer's pictureEikelaan

Gas-blog: "Merke, gereed, Eikelaan!" - Lyrinda Venter


Lyrinda Venter, die Klawerhof HK-lid wat die pretloop gereël het, staan links op die foto.

Op 21 Julie 2018 het Klawerhof Dameskoshuis 'n heerlike pretloop ten bate van die Eikelaan gehou. Lyrinda Venter, HK-lid, het hierdie blog-plasing geskryf om ons meer te vertel oor hoe dit gegaan het.

 

Groen laat baie gedagtes van natuur, groei en bewaring by mens opspring en as jou gedagtegang wel in die rigting van die bogenoemde beweeg is dit heel akkuraat. Daar is wel ʼn ander groen wat genoem moet word om die gebeure van Saterdag 21 Julie 2018 so effektief moontlik te kan beskryf…

Klawerhof Dameskoshuis, wat die trotste eienaars van grasgroen formele koshuisdrag is, het besluit om die fokus op “groen” te plaas deur betrokke te raak by die bewusmaking van die afsterf van Potchefstroom se nasionale monument. Ons Eikelaan.

Dit is oral op die nuus te sien dat ons nasionale monument besig is om af te sterf en dat daar ʼn beroep op die gemeenskap gedoen word om asseblief intensioneel te werk te gaan om die probleem te bekamp. Klawerhof Dameskoshuis het op die ernstige versoeke gelet en dit goedgedink om die studentegemeenskap asook lede van die plaaslike gemeenskap te betrek om bewustheid te kweek oor die kwessie deur ʼn pretloop te hou.

Die pretloop het op die Potch Parkrun roete plaasgevind. Die deelnemers het ʼn 5 km roete geloop omdat dit die naaste vergelykbare afstand is aan die werklike lengte van die laning. Dit was ʼn vars wintersoggend, maar het lekker warm geraak teen 09:30 toe die pretloop afskop. Daar was so ongeveer 50 mense wat opgedaag het om deel te neem. Daar was studente van alle kampus koshuise en die dames van Klawerhof het natuurlik in hul getalle opgedaag. Pa’s en seuns het vol motivering opgedaag om die 5 km roete te takel. Die graad 4 seuntjies was vreeslik ywerig en het aangebied om voor te hardloop. Dit is ook maar goed so – die res van die deelnemers het hoofsaaklik gestap en sou die 2 opgewonde jongmanne se pad versper het. ’n Paar vier-potige lede van die gemeenskap het ook saam met hul eienaars kom deelneem. ʼn Oud-Klawerhof Prim het ook van die aangeleentheid gehoor en besluit om haar stapskoene aan te trek en ʼn tree te neem vir die toekoms.

Die deelnemers het nader gestaan en die voorsitter van die Historiese Eikelaan belangegroep, Lennie Gouws, en die Aktuele Sake HK-lid van Klawerhof het verduidelik waarom die pretloop gehou word en wat die erns van die saak is. Daar was ook geleentheid gebied vir die deelnemers om donasies te maak wat direk teruggeploeg word in die Historiese Eikelaan Belangegroep se projekte om die laning te red.

Klawerhof het ook vir besighede wat in die Eikelaning geleë is gevra om die aangeleentheid te borg of donasies te skenk waarna die volgende besighede bygedra het:

· Fiori’s

· Varsity Café

· Texas

· Boeresjiek

· Stadium

· Die Herald

Na afloop van die bedanking van die borge was dit uiteindelik tyd om te begin stap. Met optimistiese gemoedere en bewusmaking voor oë het die pretloop afgeskop.

Merke... gereed... Eikelaan!

 


52 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page